Almagtige Hemelse Vader, dankie vir die voorreg om uit Jesus se gebed te leer. Vader, die eerste gedeelte wat my opval is “verheerlik U Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik” As ek dan wonder hoe die Seun die Vader verheerlik het dan gee U die antwoord in Joh 17:4, 6, 8 en 26 “Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen”. Wat moes Jesus dan kom doen? Jesus het U Naam kom bekend maak deur te wys hoe lyk U hart, U liefde en U genade. Die dissipels het dit verstaan en geglo.
Vader, ek is ‘n volgeling van Jesus. Help my asseblief sodat ek U ook kan verheerlik soos ek in Fil 2:14 – 16 en 1 Pet 3:15 lees. Vernuwe my denke sodat ek alles sonder kla en teëpraat sal doen. Dat my daaglikse optrede sal getuig van Jesus integriteit; my dade altyd bo verdenking sal wees en dat opregtheid uit my sal straal. Dat ek ten spite van watter omstandighede sal onthou dat my optrede ‘n refleksie op U is, want U is my Vader. Ek wil U Woord deur my lewe uitdra sodat ek gereed kan wees wanneer Jesus kom.
hoe wys my lewe dat ek in eerbied met U wandel?
Ek wonder nou… hoe wys my lewe dat ek in eerbied met U wandel? Vader, ek is ‘n eenvoudige mens. Ek moet dit prakties in my lewe kan uitlewe. Soms is U Woord bokant my vuurmaakplek, maar een ding weet ek verseker U is my God, my redder en in U stel ek elke dag my verwagting. Petrus sê ek moet altyd gereed wees om mense te antwoord wat my uitvra oor die hoop wat in my lewe. Dit is so maklik, soms is ek tog bang ek skrik mense af met reguit antwoorde of vrae.
U weet waarvan ek praat… bv. die vraag “wie is jou baas?” Baie mense trap klei om U as die Koning van hulle lewe te verklaar. Ek verklaar hiermee as “BAAS” en KONING van my lewe!
Ek wil net heeltyd sing van die vreugde en blydskap wat U in my hart geplaas het! Ek verheerlik U deur lofliedere te sing… alle eer en lof aan die Heer van alle here. Dankie dat ek U ook verheerlik deur my vaste geloof dat Jesus my vrygekoop het. Jesus dankie dat U die losprys betaal het sodat ek U met vrymoedigheid kan aanroep
Dankie dat ek soveel nuwe insigte kan leer. Die gebedsreis saam met U is ‘n nuwe wêreld wat ek grootoog ontdek.
Amen