fbpx

Jesus se “Ek IS” Stellings – Deel 1

-

Hemelse Vader, Koning Jesus en Trooster Heilige Gees, vanmôre toe ek opstaan was ek so moeg vir die lewe en het so gesmag na U waters van rus.

Ek gaan sit op die stoep en luister na inspirerende liedere in aanbidding en hoe meer ek sing hoe ligter word my gemoed. Ek dank U en ek loof U vir die wonders wat U in my lewe doen. Een ding weet ek verseker stilte en aanbidding is kos vir my siel. Ek dink toe aan ‘n teks wat ek kan gebruik om my bloeiende lewe saam met U te verwoord. Vroeër die week het ek geleer oor al die “EK IS…” verklarings van Jesus en ek voel om Jesus se karakter te ken is uiters belangrik om ‘n dieper verhouding met U te bou. Here, my God, my Vertroueling en Bemoediger, my Verlosser U is my alles!

“Ek is die brood wat lewe gee” – Joh 6:35

Terwyl ek so sit en kyk na die voëls wat by die kosbakke kom sit skiet ‘n gedagte in my op…. Ek kan al die lekkerste kos in die wêreld geniet maar as ek U nie eet nie sal daar altyd ‘n gat in my siel wees. Ja, Redder van die wêreld, U is die enigste een wat my geestelik voed en my lei tot ‘n lewe van aanbidding waar die geraas van die wêreld uitgedoof word en U as ‘n werklikheid in my lewe vergestalt. Dankie vir die voorreg om van U Brood te kan eet wat lewe gee!

“Ek is van daar bo” – Joh 8:23

Here Jesus, U is van daar bo. Ek weet U het afgekom aarde toe, is as mens gebore, het al die seerkry en swaarkry van mens ervaar. Ek probeer myself indink as ek gelewe het tydens U aardse bestaan… Hoe sou ek gereageer het as ek ‘n Jood was en al die Joodse geskrifte geken het? Sou ek U onvoorwaardelik aanvaar het as die Messias? Sou ek dalk U misken het? Deur God se genade glo ek vas U is van daar bo, U is Jesus Christus, my Gesalfde Verlosser, my Redder. Waar U koninkryk ookal is, dit is waar ek begeer om te wees. Hier is ek Here, suiwer my gedagtes, woorde en dade om ‘n volkome volgeling van U te wees.

“Voordat Abraham al gebore is, was EK al wat Ek Is” – Joh 8:58

Vader in Eksodus 3:14 sê U hierdie woorde vir Moses “Ek is wat Ek is.” Die Jode het dus ‘n konneksie tussen U Almagtige God wat hulle uit die Egiptiese slawerny gered het en die woorde “Ek is.” Die Jode van Jesus se tyd het goed verstaan dat Jesus Homself hier as God (Ek is) verklaar. My verbasing lê in die feit dat die Jode in Moses se tyd U boodskap omhels het, maar die Jode in Jesus se tyd wou Jesus eerder doodmaak as om te glo. Weereens moet ek my hart ondersoek en vra “Wat sou my reaksie wees as ek in daardie tyd gelewe het?” Maak dit enigsens saak? Dit punt is om U te volg en te glo dat U is Wie U sê U is. Here help my om tenspyte van my tekortkominge U altyd te glo en te weet U is God.

“Ek is die lig vir die wêreld” Joh 9:5

Dankie Here Jesus dat U die lig vir die wêreld (en ook vir my) is. Gewoonlik vereenselwig mens lig met son wat die nag duisternis kom verdryf. Net soos die son die aardse lig is so is Jesus ook die geestelike lig. Soos die son in die oggend op die horison verskyn, het Jesus ook op my horison verskyn en Sy ewige lig in my hart kom skyn. Jesus, U is die Liefling van my siel, U het my gered (en red my daagliks) en ek buig in aanbidding voor U neer.

Vader laat U wil geskied hier op aarde net soos in die hemel. Laat elke tong getuig van U grootheid en in aanbidding voor U buig. Ek bid dat verlore siele hulle harte vir U sal oopstel, dat hulle U liefde en genade sal ervaar en tot inkeer sal kom.

Ek het U lief o Heer.

Amen

Share this article

Recent posts

Gebedsreis Joernaal/Werkboek

spot_img

Popular categories

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Recent comments